Media Releases

SA Suiwelkampioenskappe brei uit in 185ste jaar

Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die grootste, oudste en mees gesogte suiwelgebeurtenis in die land, vier vanjaar sy 185ste bestaansjaar. Dié kampioenskappe word sedert 1834 deur Agri-Expo (ook bekend as Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap) aangebied. Agri-Expo het vanjaar, ná ‘n nuwe kategorie vir melk en UHT-melk verlede jaar bygevoeg is, besluit om ook ‘n nuwe kategorie vir room te skep. Die kampioenskappe bestaan nou uit tien kategorieë en meer as 100 klasse vir eindprodukte in die prosesseringslyn van die suiwelbedryf.

Enige suiwelprodusent wie se produkte ten tye van beoordeling in die handel beskikbaar is, kan tussen 4 Januarie en 1 Februarie 2018 op die webwerf www.cheesesa.co.za inskryf. Die beoordeling vind op 22 Februarie 2018 plaas en die Qualité-toekenningsdinee word op 23 Maart 2018 by Grand West in Kaapstad aangebied.

Die wenners in die onderskeie klasse word tydens die Qualité-toekenningsdinee as SA Kampioene bekroon, terwyl slegs produkte van besonderse hoë kwaliteit die Qualité-merk van gehalte ontvang. Ná die eerste rondte beoordeling deur meer as 70 beoordelaars wys ‘n paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan. In 2017 is 854 produkte deur 83 suiwelvervaardigers ingeskryf, met Parmalat se 10-maande verouderde Gouda wat as Produk van die Jaar bekroon is.

Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, is die uitsluitlike doel van die kampioenskappe om uitnemendheid in die suiwelbedryf te bevorder. “Ons is trots daarop om die enigste kampioenskappe aan te bied wat alle suiwelprodukte in Suid-Afrika betrek. Die kompetisie het die maatstaf geword waarvolgens produsente hulself teen mekaar meet. Die Qualité-merk word deur die bedryf erken as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika,” sê Ehlers.

Agri-Expo, ‘n nie-winsgewende landbougenootskap, bevorder die beeld van landbou deur bemarkingsinisiatiewe soos ekspo’s, waaronder die Suid-Afrikaanse Kaasfees en Agri-Expo Livestock. Vir meer inligting, besoek www.agriexpo.co.za, volg Agri-Expo op Facebook of Twitter, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za.