Media Releases

Skryf in vir 2018 SA Suiwelkampioenskappe

Suiwelprodusente word genooi om in te skryf vir die 2018 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe, die grootste, oudste en mees gesogte suiwelgebeurtenis in die land.

Dié kampioenskappe word sedert 1834 deur Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap, nou Agri-Expo, aangebied. Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, is die uitsluitlike doel van die kampioenskappe, wat vanjaar sy 185ste bestaansjaar vier, om uitnemendheid in die suiwelbedryf te bevorder. “Ons is trots daarop om die enigste kampioenskap aan te bied wat alle suiwelprodukte in Suid-Afrika betrek. Die kampioenskappe het die maatstaf geword waarvolgens produsente hulself teen mekaar meet. Die Qualité-merk word ook deur die bedryf erken as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika,” sê Ehlers.

Die kampioenskappe bestaan uit tien kategorieë en meer as 100 klasse vir eindprodukte in die prosesseringslyn van die suiwelbedryf. Enige suiwelprodusent wie se produkte in die handel beskikbaar is, kan inskryf. In 2017 is 854 produkte deur 83 suiwelvervaardigers ingeskryf. Die wenners in die onderskeie klasse word tydens die Qualité-dinee as SA Kampioene bekroon, terwyl produkte van besonderse hoë kwaliteit die Qualité-merk van gehalte ontvang. Ná die eerste rondte beoordeling deur meer as 70 beoordelaars wys ‘n paneel van vyf kundiges die Produk van die Jaar aan. Parmalat se 10-maande verouderde Gouda het in 2017 dié titel verower.

Kobus Mulder, hoofbeoordelaar, sê: “Die kampioenskappe is uniek, omdat beoordelaars individueel deelneem aan ‘n blinde evaluering van produkte om die proses werklik onafhanklik te maak.”

Inskrywings vir die 2018-kampioenskappe open op 4 Januarie 2018 op die webwerf www.cheesesa.co.za. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 1 Februarie 2018.  Die beoordeling vind op 22 Februarie 2018 plaas en die Qualité-dinee word op 23 Maart 2018 by Grand West in Kaapstad aangebied.

Agri-Expo, ‘n nie-winsgewende landbougenootskap, bevorder die beeld van landbou deur bemarkingsinisiatiewe soos ekspo’s, waaronder die Suid-Afrikaanse Kaasfees en Agri-Expo Livestock. Vir meer inligting, besoek www.agriexpo.co.za, volg Agri-Expo op Facebook of Twitter, of kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za .